Publikasiekommissie en Die Boodskapper (Pk.)
- Deur: marius.gouws@apk.co.za
1. Die Kommissie is verantwoordelik vir
1.1 die gereelde verskyning van Die Boodskapper;
1.2 die Redaksie van Die Boodskapper se
1.2.1 insameling, keuring en plasing van leesstof;
1.2.2 werwing van adverteerders om so die koste te besnoei;
1.2.3 werwing van intekenaars, met die ideaal dat by elke besoekpunt in elke gemeente ‘n eksemplaar van Die Boodskapper besorg word;
1.2.4 versending van eksemplare aan die kerkkantoor van die Gereformeerde Kerke in SA, Hervormde Kerk en Ned. Geref. Kerk, aan ons eie Argief en aan strategiese punte in die beskermingsdienste en andere, soos die Redaksie besluit;
1.3 die publisering en bemarking van alle publikasies waarop ‘n sinode besluit. Alvorens enige publikasie wat in opdrag van ‘n sinode moet verskyn, maar wat hy nie self in finale vorm goedgekeur het nie, gepubliseer word, lê die Pk. die toets van Algemene Bepaling 4 (1996) aan en beoordeel of sodanige publikasie die AP Kerk skade kan aandoen. Aangesien die Pk. die verantwoordelikheid vir publikasie het, moet alle publikasies wat deur wie ook al via die Pk. moet verskyn, bogenoemde toets kan deurstaan;
1.4 die keuring, publisering en bemarking van alle ander publikasies wat die belange van die sinodale verband dien, insluitende publikasies van kulturele en geskiedkundige aard;
1.5 redaksionele versorging van manuskripte waar die Pk. dit nodig ag, met dien verstande dat die inhoud van die manuskrip nie daardeur verander word nie.
2. Die uitgewery waar die Pk. sy publikasies die lig laat sien, staan bekend as Lig in Duisternis Uitgewers.
3. Die Pk. sal voorgenome publikasies wat plaaslike en/of streeksbelange van die AP Kerk dien, op hul meriete oorweeg vir publisering en bemarking.
4. Die Pk. is spesifiek verantwoordelik vir die publisering, verspreiding en waar moontlik bemarking, van die Sakelys en Handelinge van ‘n sinode nadat die SKK die betrokke manuskripte na inhoud gefinaliseer het.
5. Dagbestuur
Die Pk. wys ‘n dagbestuur aan vir hantering van spoedeisende sake. Die Dagbestuur van die Pk. bestaan uit die voorsitter, ondervoorsitter en skriba van die Pk., en twee secundi wat in orde van verkiesing opgeroep word wanneer ‘n lid van die Dagbestuur afwesig is. ‘n Vakature op die Dagbestuur word deur die Pk. aangevul.
6. Redaksie van Die Boodskapper
Die Redaksie van Die Boodskapper is ‘n subkomitee van die Pk. en is verantwoordelik aan die Pk.
Die Pk. bepaal die getal van die redaksielede en wys redaksielede, medewerkers en ‘n kernredaksie van drie lede aan.
Die kernredaksie bestaan uit die redakteur en nog twee lede van die redaksie wat verkieslik naby die sentrale kerkkantoor woon.
Die Pk. wys, vir sover hy dit nodig ag, bepaalde portefeuljes aan redaksielede en medewerkers toe, en laat dit origens aan redaksielede oor om oor portefeuljes en die toewysing van portefeuljes te besluit.
Die Pk. wys ‘n eindredakteur vir Die Boodskapper aan wat deur die GKK aangestel word met ‘n diensooreenkoms wat na inhoud deur die Pk. goedgekeur en na vorm deur die GKK opgestel word.
Die Eindredakteur van Die Boodskapper moet behoudens KO Art. 17 ‘n predikant van die AP Kerk wees en sy diensvoordele stem ooreen met dié van ‘n predikant.
7. Die Kerkjaarboek
Die Pk. is in oorleg en in samewerking met die Direkteur vir Kerkadministrasie, verantwoordelik vir die inhoud, publisering en bemarking van die Kerkjaarboek van die AP Kerk.
8. Personeel
Die Pk. besluit, volgens sinodale begroting, oor die personeel-voorsiening wat vir doeltreffende uitvoering van sy take nodig is, en reël vir die aanstelling van sulke personeel in oorleg met die GKK.
9. Einddoel en prioriteit
Die Pk. stel dit as einddoel dat die publikasiebelange wat hy dien, geldelik selfversorgend sal wees, maar stel dit as hoogste prioriteit om die geestelike belange van alle lidmate van die AP Kerk deur sy publikasies te dien.
10. Opdragte van sinodes
Die Pk. beskou ad hoc-opdragte wat sinodes van tyd tot tyd aan die Kommissie mag gee, as deel van hierdie lasgewing.